Journalism

Kaapse koeksisters gesels lustig saam

IMG_2787

Die alombekende “anties van Bonteheuwel” Flori Schrikker en Koelsoem Kamalie het Paarliete vermaak by die Afrikaanse Taal-Museum Saterdagoggend ter viering van Museum-dag. Die twee vriendinne het byna oornag famous geword en in Suid Afrikaners se harte ingekruip met hulle aansteeklike sin vir humor en unieke gawe vir tradisionele, onopgesmukde huiskos.

As staatmakers op Amore Bekker se daaglikse RSG program “Tjailatyd,” het hulle twee uitstaande koekboeke uitgegee: Kook Saam Kaaps (wat laas jaar ‘n Gourmand kos-toekenning gewen het in die inheemse kos kategorie) en die smullekker Soettand – altwee deur Lapa gepubliseer. Boonop het hulle program op die KykNet Via kanaal Flori en Koelsoem se Kos laas week ‘n ATKV Media-veertjie ontvang.

Die twee diva’s het lekker gesels oor Suid Afrikaanse kos-erfenis met die gesprek getitel “Dis my koeksister en jou koesister” (let op die verskillende spellings) en inderdaad, wat is meer volksbesit as koeksisters? Shireen Crotz van die Woorde Open Werelde program (Wow) het die gesprek gelei. Gonny du Plessis, die voorsitter van die Suid-Paarl Landbou-vereniging en Dr Willem Botha, die hoofredakteur van die Handwoordeboek avn die Afrikaanse Taal (Wat) het saam gesels.

IMG_2775
Dr Willem Botha, hoofredakteur van WAT; Chantelle de Kock, kurator van die Afrikaanse Taal-Musuem; Flori Schrikker; Koelsoem Kamalie; Gonny du Plessis, voorsitter van die Suid-Paarl landbou vereniging; Shireen Crotz van Woorde Open Werelde en Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taal-Museum en Afrikaanse Taal-Monument. Fotos: Anna-Karien Otto

Dr Botha het die gesprek geopen met ‘n kort definisie van die word koeksister soos dit in die Wat aangehaal word. Maar omdat die woordeboek in 1960 opgestel was, word daar nie onderskei tussen koeksisters en koesisters as twee verskillende resepte nie. Koeksisters word gevleg en in olie gebraai en dan in koue stroop gedompel. Maar koesisters word nie gevleg nie en word met gemengde speserye en kardemom gemaak.  Die stroop word teen kamer tempertauur bygevoeg en dan word die lekkernye in klapper gerol.

Du Plessis het 40 jaar van bak en brou onder die knie. Haar liefde vir koeksisters het onstaan toe sy as jong vrou ‘n kerbasaar besoek waar ‘n ene Johanna du Plessis (wie later haar skoonma sou word) bekend was vir haar lekker koeksisters. Sy beskryf hoe die resep ontstaan het gedurende Van Riebeek se tyd en geïnspireer was deur die tradisionele resep vir Hollandse oliebolle, wat nou nog elke Nuwe Jaar geëet word. Laterhand het ‘n sort kruisbestuiwing plaasgevind, waar twee soorte deeg by mekaar ineengevleg was.

Sy sê: “’n Regte koeksister moet krakerig en stroop-gevul wees, dus behoort die stroop sommer in die vrieskas gehou word sodat die warm gebraaide koeksisters volkome die yskoue stroop kan absorbeer.”

Antie Koelsoem vertel dat sy “swaar swaar” geleer het om aartappel koesisters te bak as tiener. Na al die harde werk het “die trane gerol terwyl ek die deeg uitrol”.  In meeste Moslem huise word koesisters geëet met die Eid feesmaal, nadat die vas van Ramadaan gebreek word. Hulle was ‘n reuse sukses, so “van daai tyd is ek lief vir aartappel koesisters maak, daai twisties issie my style nie, want ek het mos pryse gekry daarvoor!” Sy vertel ook van toe sy haar seun verwag het, die koesister-olie per ongeluk op haar maag geval het. “En so is die kind toe gebore met ‘n birth mark in die vorm van ‘n koesister!”

Volgens die eeu-oue gewoonte, word die Eid gekenmerk deur jou maal te deel met bure, vriende en veral die behoeftiges. Nog ‘n snaakse storie was toe sy haar kleinseun só uitstuur met ‘n bord vol koesisters. Maar na ‘n kort ruk kom hy terug met ‘n leë bord en klapper om die mond! “I did eat it all up, Granny!” was sy antwoord.

Flori vertel hoe sy destyds moes hard werk om die speserye fyn te maak met ‘n stamper en vysel en veral die droë nartjie-skil moes poeierfyn gekap word. Nou koop mens die speserye klaar fyn maar sy maak steeds haar stroop met repe droë nartjie skil daarin. Du Plessis sê: “As daar ‘n basaar gehou word in hierdie land – is daar is koeksisters. Baie kerke, moskeë en skool-sale is deur koeksisters gebou. Koeksisters bak is alleen werk tensy daar baie hande kan bykom dan word dit ‘n samebindende factor.”

Flori reken dat die Sondag middagete ritueel is nie kompleet sonder koesisters nie. “My gesin kan sonder ‘n boud of sonder hoender maar nie sonder hulle koesisters gaan nie.” Koelsoem vertel ‘n skreeusnaakse storie van haar onlangse 46ste huweliksherdenking. Omdat sy nie veel hou van resaurante nie, maar dol is oor vis en tjips, neem haar man haar uit na Houtbaai. “Maar toe kom hy daar aan met net één stuk vis, een portion tjips en een drink! En ek kyk so na die branders en dink as my publisher my nou kan sien…”  Flori skerts saam uit simpatie: “Ja, my man is dieselfde, hy’s The Great Pretender!”

Die spesiale geleentheid was mooi afgesluit met ‘n verrassing- ses gaste het groen plakkers onder hulle stoele gevind en ‘n prys ontvang – ‘n pakkie spesiale speserye om hulle eie koesisters te maak- kompleet met antie Flori se foon nommer – in geval hulle vashaak.

First published in Paarl Post in May, 2017.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s