Journalism · Personal Essays

Vasgevang in glas

20191010_115638-01

PANNEKOEK VIR JAN & JORIE

Gepubliseer in Vrye Weekblad http://www.vryeweekblad.com in Oktober 2019

As ek dink aan oranje, dink ek aan my oranje-blanje-blou kinderdae. Die bloem van ’n lemoen. Sonsondergange en die bruin-oranje gesigte van sonneblomme.

As ek dink aan nartjies dink ek aan hoe die olie van die skil jou vingers taai maak en soms laat brand. En Jan Rabie se fel-oranje T-hemp met DJ Opperman se magiese woorde: “My nooi is in ’n nartjie” in wit hoofletters voorop en, soos hy omdraai: “My ouma in kaneel” oor die vleuel van sy skouers.

Ek en my ma Rachel het byna elke somer by Jan en Jorie gekuier. Jan en sy vrou die skilder Marjorie Wallace het langs die see gewoon in wat ons Onrust (met ’n T) genoem het maar wat eintlik Vermont is. Dit was ’n lang uittog van die Oos-Kaap, en my ma het dit altyd een stryk deur gery met net een stop by die Stormsrivierbrug. En hoe nader ons gekom het, hoe nader was ons aan my ma se hartland, waar sy vandaan kom.

Soos die branders en die glinsterende bamboes vir ons groet, kom Jorie met ’n wiegende stap af met die trappe van haar ateljee met haar plakkies aan. Die honde blaf en Jan maak hulle in ’n diep stem stil. As ons vroeg genoeg was, het ek sommer dadelik in die getypoel gaan swem. Daar waar die seekastaiings en -anemone groei. En ek het altyd probeer om die half-wild gemmerkatjies uit te lok vanuit onder die bougainvillea.

20191010_085556
Ek en Jan by die Jan en Jorie getypoel, Vermont. In 1992/3. Foto: Rachel Breytenbach

Waar ons twee gebly het, is die wonderlikste plek op aarde – die kothuis onder in die tuin. Nes die huis, is dit deur Jan self in die Griekse styl gebou. Daar was geen elektrisiteit nie, maar olielampe vir lees langs die bed en ’n vuurherd. Die sonpaneel op die dak het gesorg dat die water lekker warm is vir stort in die laatmiddag. Soggens en saans het ons bymekaargekom op die agterstoep met die lang tafel wat met potblou teëls bedek is. Blou en wit gestreepde seile bedek hulle beddens, want winter en somer slaap die twee buite op die stoep.

Jorie dra haar wit-grys hare in ’n bolla vasgepen met Chinese eetstokkies. Sy praat verskriklik baie en beduie met haar hande. Wanneer sy Afrikaans praat, is dit ’n mengsel van Hollands en Engels met ’n Skotse lilt. Jare later sou ek my verwonder aan hoe ek self opgesaal sit met ’n Hollandse aksent nadat ek vir een skrale jaar in die Lae Lande gewoon het. Jan is so bruin soos die aarde. Hy praat met eerbiedige passie en sy lietsjiepit-oë word donkerder as Jorie nonsens begin te praat. En oral om ons is die see wat na ons roep. Soos die son sak, fluister die see al hoe harder.

Jorie maak koffie op die Turkse manier: pikswart en modderig van al die moer. Sy maal die bone in ‘n hout koffiemeul en maak die koffie in ‘n Italiaanse cafeteire op die kleinste vlammetjie op die ou gas stoof. Dit word bedien in erdeware bekers met verskriklik baie warm melk. Helfte koffie en helfte melk.

Ons probeer ons eie kos bring, maar Jorie wil niks hoor nie. Sy maak geurige hoender en aartappels in ’n pot met suurlemoen en roosmaryn, op die Griekse manier. Ons vee vinnig die kathare van die borde af voordat sy kan inskep. Die borde is pragtig, deur Hendrik, Jan se broerskind, gemaak met seekatte en seesterre in skakerings van lugblou en turkoois.

rachael2 001
Jan en Jorie sit in die son. Net langs hulle is die klip braai wat Jan self gebou het. Die houttrappe na die ateljee kan net-net gesien word in die hoek van die foto. Foto: Rachel Breytenbach

Een Kersfees kry sy ’n enorme ham as geskenk van Johans Borman, die bekende kunskenner wat vir jare ‘n galery skuins oorkant die kafee gehad het. ’n Week en half na Kersfees was meeste van die ham nog nie op nie. Daar was altyd baie kuiermense en elke keer bring Jorie weer die ham te voorskyn. Maar ons was vol flou verskonings. Ons het vis en tjips geëet in Hermanus … Ons is nie baie honger nie. Goddank , want teen Tweede Nuwejaar was daar ’n glinsterende blou-groen skynsel op die einste ham.

Jan het ’n seewierjellie gemaak van rooiwyn en die rooi wier wat op die seebamboes groei. Ek sal nooit die kleur daarvan vergeet nie. Donker Van Dyke-bruin totdat dit skielik die lig vang met ’n bloedrooi skynsel. Hy het dit bedien gedrapeer met dun, ongeklopte suurroom. Een keer sleep hy en sy blonde rifrug hond Becky ’n lang sliert seebamboes uit die see. Hy stop die holte met perlemoen en gooi dit op die braaivleisvuur sodat die vleis deurtrek is met die onvergeetlike geur van die see. Vir Nuwejaar spoel hy fish paste-flessies uit om as wynglase te gebruik en span ’n seil oor die olyfbome waar die geelvinke deur die somer dans en kwetter.

Een aand, soos die koel seeluggie geniepsig beginne raak, verskuif ons na die voorkamer. Langs Jan se leunstoel is ’n brons beeld van hom met sy geliefde hond Ariep aan sy sy. Daardie jaar het Jan so droewig gelyk toe hy Ariep se graf vir my wys. Jorie het sy naam op ’n stuk dryfhout geskilder. Ek het altyd gedink dat as ek die letters van “Rabie” rondskommel, ek “Ariep” sou kry. Hy en sy hond was soos een wese. Jare later het die sewejaartjies welig op Ariep se graf gegroei.

Marjorie painting
Hier is Marjorie se skildery wat sy geskilder het van hulle eetkamer. Die Arabia teepot (regs) was elke dag vir ontbyt gebruik. Die divan (met blou kussings bedek) is in in die agtergrond. Foto: straussart.co.za

 

Ek sit op ’n divan met ’n krapperige 1970s sybokhaarkombers daarop, my ma kies die wiegstoel. Jorie is besig in die kombuis. Jan stap na ’n driehoekige kas wat teen die muur hang. Hy maak die deur oop en wys vir ons ’n skat: ’n versameling piepklein likeurglasies en ’n verskeidenheid likeurs. Soos blink juwele, ’n rykdom Suid Afrikaanse brandewyn, muskadel, rooi jerepigo , advokaat en crème de menthe. Hy vra hoflik vir my ma wat sy sal verkies. Vir homself skink hy ’n knertsie diep-amber KWV Van der Hum uit ’n mooi geriffelde fles. Die naam laat my dink aan Van Hunks en sy pyp. Ek vra: Hierdie Van der Hum, wie was hy? “’n Goewerneur uit die Kaap,” antwoord Jan. “In van Riebeeck se tye.”

En wat ’n klankvolle naam is dit nie … Van der Hummmm. “Die likeur word met nartjies en lemoenbloeisels gegeur” voeg hy by. Uit nuuskierigheid proe ek selfs ’n teugie. Jan leun terug in sy leunstoel soos hy die likeurtjie geniet. Hierdie oomblik is net vir ons. En alles is daarin vasgevang – die hemel en die see, Jan se lewenslustigheid so oud en onvergaanbaar soos ’n olyfboom. Al die skrywers vantevore en al die digters daarna. Al die kos en al die wonderlike, wonderlike mense waarna ons nou so hartstogtelik verlang.

20191010_115638-01
Pannekoek van der Hum vir Jan & Jorie. Die breekware is meetsal van die 60s en 70s en is soortgelyk aan wat Jorie self sou gebruik het, veral die klein Iznik koffie koppie van Istanbul.  Foto: Anna-Karien Otto

Pannekoek met nartjies Van der Hum

Hierdie resep het twee inspirasies: die klassieke crêpes Suzette en die resep vir Pannekoek Van der Hum uit Kook Suid-Afrikaans (1977) deur Magdaleen van Wyk. Ek beveel aan om ClemenGold of Tango nartjies hiervoor te gebruik. Die geur van die nartjie-skil gee die karamel ‘n besondere smaak.

Bestanddele:

Vir veerligte pannekoek meng saam:

1 eier, geklits

3 eetlepels volroom melk

1 E botter, gesmelt

’n Knypie sout

2 koppies meel, gesif

‘n Knypie sout

2 knypies fyn kaneel

‘n Skeut vars gerasperde neutmuskaat

100ml sprankelende soda-water

 

Suiwer klapper-olie of canola olie, soos nodig

Vir die karamel word benodig:

100g suiker

100ml water

4 tot 6 ClemenGold of Tango nartjies

1 koppie Van der Hum likeur

‘n Halwe duim vars gemmer, in dun skywe gesny

Maak die beslag aan vir die pannekoek en laat staan teen kamer temperatuur.

Sonder om hulle te skil, sny die nartjies in skywe met ’n skerp geriffelde mes, ongeveer 1 cm breed. Hou die puntjies eenkant om later vir die sap te gebruik.

Al skrik jy dalk vir karamel-maak, is hierdie manier dood-eenvoudig. Plaas ‘n pan oor matige hitte en gooi die suiker en water daarin. Wanneer die suiker meestal opgelos is, kan jy die nartjie-skywe byvoeg, sonder dat hulle bo-op mekaar lê.  Voeg die vars gemmer ook by. Moenie roer nie. Laat die karamel borrel vir ‘n paar minute.

Draai versigtig om met ‘n vurk en prut vir ‘n verdere paar minute. Haal die pan van die hitte af. Haal die nartjies versigtig uit en skep op ‘n bord. Voeg die likeur by die karamel, en as ly lus het kan jy dit flambé, wat sal ‘n donkerder caramel sal maak. Druk die sap uit die oorblywende nartjie-punte en voeg daarby. Los net so in die pan en hou eenkant.

Nou kan jy die pannekoek bak. Ek gebruik ‘n kleefvrye pan en ‘n klein klontjie klapper-olie, wat ‘n eksotiese geur gee. Maak sommer ‘n lekker stapel pannekoek. Dis nie nodig om hulle warm te hou nie.

Op hierdie stadium kan jy iets anders gaan doen, soos byvoorbeeld lekker eet saam met jou gaste. Wanneer jy reg is, vou die pannekoekies in driehoeke en skep in ‘n groot bak. Maak die karamel weer in die pan warm op matige hitte. Haal die gemmer uit en voeg die nartjie-skywe versigtig by. Die nartjie-skywe kan binne in elke pannekoek toegevou word of bo-op bedien, of albei.

Bedien met geklopde room.

 

2 thoughts on “Vasgevang in glas

  1. Ai AK! hoe verlang ek nou ! Na die see, die geur van nartjie en pannekoek en my taal. Dankie vir hierdie woordskilderye wat jy oor die water na my laat aandryf, om oor my godverlate siel te spoel en bietjie heel te maak.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s